Andrew Murray Trustfonds
Die Andrew Murray Trustfonds het in werklikheid ontstaan by die familievergadering wat gehou is by die afsluiting van die 1972 familiesaamtrek te Graaff-Reinet, alhoewel dit eers later die naam “Andrew Murray Trustfonds” gekry het. Aanvanklik was dit bekend as die “Murray Sendingfonds”. Die hoofdoel was nog altyd om, ter nagedagtenis aan ons voorgeslagte en in dankbaarheid en erkentlikheid van die rol wat hulle gespeel het en die invloed wat van hulle af uitgegaan het, gereelde bydraes te maak aan spesifieke sendingverwante inisiatiewe waarop van tyd tot tyd besluit mag word.

Die twee organisasies wat in hoofsaak deur die jare heen ondersteun is deur die Fonds is, sedert die ontstaan van die Fonds die “Student Christian Organisation of Malawi (SCOM)”, op ‘n stadium ook die Emdeni Kinderhuis wat Jan Hofmeyr (b9c4d2e3) in Soweto begin het en mettertyd sy baie suksesvolle en geseënde “Studietrust”-projek.

Die plan is om mettertyd meer besonderhede oor die Trustfonds en oor die verskillende sake wat al deur die Fonds ondersteun is op die webblad te plaas. Dit sluit in ‘n tweetalige brons gedenkplaat wat in 1975 in Suid-Afrika vervaardig is en in Skotland aangebring is op die geboortehuis van ons stamvader, finansiële bydraes tot die Andrew Murray Prysfonds vir godsdienstige publikasies in Afrikaans, ‘n voertuig wat vir SCOM aangekoop en gelewer is, ens.

Finansiële verslae is gereeld in die jaarlikse Nuusbrief van die familie gepubliseer en ‘n samevattende verslag sal weer vir voorlegging en oorweging by die eerskomende familiesaamtrek te Graaff-Reinet beskikbaar gestel word.