Familieregister (Stamboom)

Deur die jare heen is die stamregister van die nageslag van ds Andrew Murray van Graaff-Reinet en sy vrou Maria van tyd tot tyd deur verskeie lede van die familie nagevors, aangeteken en gepubliseer.

Die eerste bekende gepubliseerde uiteensetting van die nageslag van die Graaff-Reinet Murrays is vervat in die baie bekende boek getiteld “Unto Childrens’ Children”, wat in 1909 verskyn het. ‘n Presiese replika-heruitgawe van die boek is in 1987 deur die Murray familiekomitee gepubliseer.

Die werklike stamregister gedeelte beslaan slegs 10 van die 140 bladsye in die boek, as een van die laaste hoofstukke, terwyl die grootste gedeelte van die boek gewy word aan lewensbeskrywings van die twee stamouers en hulle kinders. In die voorwoord skryf Maria Neethling, die oudste suster/tante (b4), in September 1909 vanuit Stellenbosch dat die oorspronklike manuskrip reeds vyftien jaar tevore basies voltooi was, “but as articles of the same nature, from other pens appeared in magazines, it was laid aside.” Daarna het die Anglo Boere-Oorlog gevolg en “not one of the families remained unscathed by the fiery blast. Those experiences would have made too painful reading.” Gevolglik is met die publikasie eers na nog ‘n aantal jare voortgegaan.

Miskien minder bekend (en meer beskeie in formaat) is die 1931 uitgawe van die opgedateerde stamregister wat onder die titel “The Andrew Murray Family Register : 1822-1931” in Graaff-Reinet gepubliseer is deur die ongetroude tante, Helen Murray (b14). Op die voorblad word ook aangedui dat die getalle vanaf 1 in 1822 aangegroei het tot “666 now living” in 1931.

Die derde stamregister-publikasie, getiteld “Murray-Stamregister : 1794-1954” is in 1956 deur Emma Horn (b7c10d4) in Kaapstad gepubliseer. Op die voorblad is die rooi, groen en blou patroon van die Skotse “Murray Tartan” as agtergrond afgebeeld. Tant Emma is bekend daarvoor dat sy vir baie jare lank die familie se geskiedenis nagevors het en haar op allerlei maniere onderskei het met wat sy vir die familie gedoen het en oor die familie gepubliseer het en laat publiseer het.

Die volgende uitgawe van die stamregister is in 1978 met ‘n rooi omslag en getiteld “The Murray Family Register : 1794-1977” uitgegee deur Caroline Murray (b5c14d2), ‘n “aangetroude”, soos sy haarself in due voorwoord noem, en “being very proud of the family I have married into”. Dit was die vrug op etlike jare se werk en daarna het sy vir nog baie jare lank voortgegaan om die stamregister op datum te hou.

Met die koms van rekenaartegnologie het Caroline se seun vir haar gehelp om ‘n rekenaar aan te skaf en haar bygewerkte stamregister-teks op woordverwerker-formaat vas te lê en steeds op datum te hou. Hierdie groot taak het sy vir baie jare met groot toewyding en sorg volgehou, totdat sy dit op gevorderde leeftyd in die vroeë negentigerjare aan die jonger lede van die Murraykomitee oorgedra het.

Caroline Murray se rekenaar-teks van die Murray familie-stamregister is destyds eers deur Emma Horn se dogter, Hester Walters (b7c10d4e2), oorgeneem en bygehou, benewens haar pligte as sekretaresse van die Andrew Murray Familiebond-komitee en mede-organiseerder van die 1974 saamtrek. Met haar man se aftrede en hul verhuising uit Pretoria in die laat negentigerjare, het sy al die rekords aan die tesourier, Teo Louw, oorgedra.

Ondertussen is ‘n eksemplaar van Caroline en Hester se werk ook op ‘n stadium beskikbaar gestel vir ‘n rekenaarkundige vertaalpoging in Afrikaans deur Koos Reyneke (b7c1d2e1f2) en het hy dit in1996 gepubliseer onder die titel “Andrew Murray nageslag:1794-1996”; ook bekend as die blou “proefuitgawe” met bladsye in verskillende kleure vir die 9 onderskeie “takke” van die familie.

Beide die oorspronklike Engelse teks van Caroline Murray en Hester Walters en die vertaalde en verwerkte Afrikaanse teks van Koos Reyneke word tans selektief aangewend deur Teo Louw (b7c7d2e4)en andere in ‘n hernude poging om die stamregister behoorlik op datum te kry en weereens te publiseer. Terselfdertyd word daar met die hulp van veral Ferdi Louw (b7c7d2e1f2) gekyk na die moontlikhede om hierdie stamregister-inligting vanaf die huidige MSWord-formaat rekenaarkundig oor te skakel na ‘n meer gesofistikeerde nuwe genealogiese databasis-formaat en dit dan miskien selfs ook op die Internet te kan beskikbaar stel. Belangstellende vrywilligers en kundiges om met hierdie grootse pogings te help word tans naarstiglik gesoek en gewerf en word dan ook hiermee gevra om na vore te kom.