PROGRAM-BESONDERHEDE VIR MURRAYFEES 2002

 

GRAAFF-REINET         5-7 JULIE

 

1.   Maaltye: Middagetes sal elke dag elkeen se eie verantwoordelikheid wees. ‘n Lys van geskikte eetplekke om meeste smake te bevredig sal by registrasie beskikbaar gestel word. Die twee aandetes sal voorsien word soos hieronder aangedui.

2. Registrasie en kuier : Urquharthuis : Vrydag en Saterdag 5 en 6 Julie 2002

Registrasie sal plaasvind by die Graaff-Reinet Museum se Urquharthuis, skuins agter Reinethuis, van Vrydagoggend 10h00 af tot Saterdagmiddag. ‘n Registrasiefooi van R100 per volwassene en R50 per kind (6-18), om sekere kostes verbonde aan die Spitbraai en ander aspekte te help dek, sal by registrasie gevorder word. Verdere donasies is ook welkom. Tydens registrasie sal moontlike verdere besonderhede van die finale program asook sekere agtergrong-inligting beskikbaar gestel word. Daar sal ook fasiliteite wees om die familie se stamregister-inligting en adres-data na te gaan en te help aanvul en op datum bring. Die dag kan ook benut word vir informele kuier, besigtiging van die museum, dorp en distrik, ens. Die Publisiteitsvereniging sal kaarte en inligtingsbrosjures oor die dorp, distrik en plaaslike besienswaardighede beskikbaar stel. Terselfdertyd sal die museum ‘n spesiale uitstalling hou, gerig op die Murrayfamilie. Enige items van belang kan saamgebring word en tydelik of permanent tot die museum se beskikking gestel word.

3. Openingsfunksie en ligte ete : Vrydagaand  18h00 : St James Kerksaal, Somersetstraat

Die openingsfunksie sal op Vrydagaand 5 Julie om 18h00 in die St James Kerksaal, naby Reinethuis, gehou word en met ‘n ligte ete van sop, toebroodjies en dies meer gepaard gaan. Dit sal die geleentheid bied om mekaar te ontmoet en beter te leer ken. Die burgemeester sal ons verwelkom.

4. Familiefoto : Saterdagoggend  10h15-11h00 : Reinethuis

Op Saterdagoggend om 10h15 vergader ons almal in die straat voor Reinethuis vir die gebruiklike neem van ‘n groot familiefoto van almal, op die trappies voor die huis. Saam met die gepaargaande neem van groepfotos van die afsonderlike takke en enkele ander familiegroepies, sal dit na raming ongeveer een uur duur. Hierna sal ‘n finale aankondiging gemaak word oor die presiese tye en plekke van die hoofbyeenkoms en ander verrigtinge. Daar sal ook weer voor en na die fotosessie geleentheid wees vir saamkuier, besigtiging van Reinethuis en die Murray-uitstalling, nagaan van stamregister-inligting, ens.

5. Hoofbyeenkoms : Saterdagoggend  11h30-12h30 : St James Kerksaal

Tydens die hoofbyeenkoms sal groeteboodskappe oorgedra word, kort oorsigte gegee word van die familie se samestelling, geskiedenis en erfenis, huidige tendense en toekomsverwagtinge, die werksaamhede van die Familiebond en van die museum, ens. Die rol en funksie van die “Vriende van die Museum” sal ook aandag kry.

6. Besigheidsvergadering

'n Kort maar belangrike besigheidsvergadering oor die spesifieke organisering, werking en sake van die Andrew Murray Familiebond sal in die loop van Saterdagmiddag gehou word. Die presiese aard, tyd en plek sal by die hoofbyeenkoms gefinaliseer en aangekondig word.

7. Spitbraai en Familiekonsert : Saterdagaand  17h00: Graaff-Reinet Golfklub

Om 17h00 kom ons almal by die Golfklub saam vir ‘n gesellige aand van sosiale samesyn, met ‘n heerlike spitbraai-ete en ‘n vrolike familiekonsert waaraan almal kan deelneem. Ons befaamde violis, Zanta Hofmeyr, asook ander kunstenaars (professionele en amateurs) uit ons familiegeledere sal optree. Toekomstige “Idols”-kandidate in die familie kan hulle gerus kom aanmeld, asook enige ander!

8. Kerkdiens : Sondagoggend  09h30 : Moederkerk

Op uitnodiging van die Kerkraad sal ons as familie die normale kerkdiens van die gemeente om 09h30 op Sondagoggend 7 Julie bywoon en vir ons omstandighede aanpas, met verskeie familielede wat aan die verrigtinge sal deelneem, insluitend leraars op die kansel, Zanta met haar viool en haar ma Elma voor die orrel. Minstens een nuwe afstammeling gaan deur ‘n oupa gedoop word.

9. Wydingsplegtigheid, afsluiting en kranslegging

Na die gewone erediens bly die familie agter in die kerk vir ‘n kort wydingsplegtigheid en afsluiting van die naweek se verrigtinge. Ons oudste lid, die oud-Springbok rugbyspeler George Daneel (97), sal ook ‘n paar woorde sê. Hierna beweeg ons oor na die begraafplaas vir ‘n kort kranslegging by die familiegrafte, waarna ons teen ongeveer 11h30 of kort daarna finaal verdaag.