• Ds Andrew Murray en sy gesin


  • Ds Andrew Murray (26 Mei 1794 – 24 Junie 1866) het in Julie 1822 in Suid-Afrika aangekom om as jong predikant vanuit Skotland onder veral die Hollandsprekende bevolking te arbei as predikant van die Graaff-Reinet gemeente. Hy het in hierdie hoedanigheid gedien vanaf sy aankoms in 1822 tot met sy afsterwe in 1866. Hy is as predikant van Graaff-Reinet opgevolg deur sy seun Charles (b5).

    Andrew Murray is op 26 Mei 1794 gebore in die "Milltown of Clatt" in die Aberdeenshire-distrik van Skotland.

    Die gesin
    Op 31-jarige leeftyd is Andrew Murray in 1825 getroud met die sestienjarige Maria Susanna Magdalena Stegmann (5 Maart 1809 – Augustus 1889). Hulle staan allerweë bekend as die stamvader en stammoeder van die Suid-Afrikaanse Murray-familie. (Daar is egter ook heelwat ander Murrays in Suid-Afrika.) Uit hierdie huwelik van Andrew en Maria is 16 kinders gebore; 8 seuns en 8 dogters:

     - b1 John (15 September 1826 - 27 Desember 1882)
     - b2 Andrew (9 Mei 1828 - 18 Januarie 1917)
     - b3 William (21 Oktober 1829 - 16 Julie 1899)
     - b4 Maria (19 Junie 1831 - 5 Desember 1912)
     - b5 Charles (26 Februarie 1833 - 23 September 1904)
     - b6 George (1834 - 1840)
     - b7 Jemima (26 April 1836 - 3 Januarie 1904)
     - b8 Isabella (1838 - 1839)
     - b9 Isabella (24 Desember 1839 - 14 Junie 1927)
     - b10 Catherine (1841 - 1860)
     - b11 James (1843 - 25 September 1914)
     - b12 George (7 Augustus 1845 - 18 Mei 1921)
     - b13 Robert (1847 - 1850)
     - b14 Helen (22 September 1849 - 20 Desember 1937)
     - b15 Margaret (1852 - 1857)
     - b16 Elizabeth (20 November 1855 - 5 November 1917)

    Van hierdie 16 kinders is 4 klein dood - b6 George (6); b8 Isabella (1); b13 Robert (3); en b15 Margaret (5) - terwyl b10 Catherine as jongmeisie op 19-jarige ouderdom dood is. Van die oorblywende 11 kinders wat volwassenheid bereik het, het een seun - b11 James (71) - en een dogter - b14 Helen (88) - nooit getrou nie. Al 9 kinders wat getrou het en ‘n nageslag nagelaat het, het lewenslank in pastorieë gebly: al 5 die seuns het predikante geword en al 4 die dogters het met predikante getrou! Die jongste dogter - b16 Elizabeth - se eggenoot is op relatief jong ouderdom oorlede en sy het net 3 kinders gehad. Die ander 8 getroude kinders se gesinne het gewissel tussen 11 en 16 kinders elk. Gevolglik het Oupa Andrew en Ouma Maria nie net 16 kinders gehad nie, maar ook 108 kleinkinders!

    Die familie het in 1909 ‘n baie bekende en baie besonderse boek, “Unto Children’s Children”, uitgegee oor dié merkwaardige gesin en familie (spesiaal vir interne sirkulasie binne die familie). Die boek bevat ondermeer kort lewensbeskrywings van elk van die twee ouers en elk van die 11 volwasse kinders. Die boek bevat ook die eerste gepubliseerde stamregister van die familie.

    Vir kort opsommings van die lewensbeskrywings van elk van die 11 volwasse kinders en van die twee ouers, sal daar hopelik binnekort net gekliek kan word op die betrokke indiwidu se donker swart aangeduide naam hierbo.
  • Die Afstammelinge


  • Van die oorspronklike egpaar Andrew en Maria Murray van Graaff-Reinet en hulle 16 kinders en 108 kleinkinders het daar ‘n nageslag gegroei wat vandag geskat word op heelwat oor die vyfduisend, waarvan vandag seker meer as vierduisend lewe. Hierdie nageslag, wat in die 9 “takke” van die familie ingedeel kan word, word weergegee in die familie-stamregister.

    Vir toegang tot die jongste beskikbare stamboek-inligting van die nageslag van elk van die 9 getroude kinders sal daar binnekort hopelik net gekliek kan word op die betrokke kind se naam hieronder ( dit is die 9 “takke” van die familie). Na die naam van die kind (hieronder) word die aantal kleinkinders genoem en daarna , in hakies, die aantal “sub-takke” in elke tak, met ander woorde: die aantal kleinkinders wat ‘n nageslag gelaat het:

    - b1 John (1826 - 1882) 13 ( 8 )
    - b2 Andrew (1828 - 1917) 11 ( 3 )
    - b3 William (1829 - 1899) 15 ( 5 )
    - b4 Maria (1831 - 1912) 12 ( 6 )
    - b5 Charles (1833 - 1904) 14 ( 11 )
    - b7 Jemima (1836 - 1904) 11 ( 7 )
    - b9 Isabella (1839 - 1927) 13 ( 10 )
    - b12 George (1845 - 1921) 16 ( 11 )
    - b16 Elizabeth (1855 - 1917) 3 ( 1 )

    ‘n Grootskaalse poging word in die jaar 2002 aangewend om die tans bekikbare (en ongelukkig ietwat verouderde en onvolledige) inligting in die familie-stamregister so op datum en volledig as moontlik te probeer kry. Wanneer dié taak voltooiing nader sal gepoog word om statistiek oor die aantal nageslag per tak en sub-tak (totaal en “nog lewend”) en ander interessanthede ook op die webblad te plaas.

    Talle van die afstammelinge het besondere bydraes gelewer en bekendheid verwerf. Die bekendste hiervan is sekerlik die tweede oudste seun, dr Andrew Murray, van Wellington, naby Kaapstad. Daar is egter ook talle andere wat vermeldenswaardig is - ook onder die aangetroudenes (of “aangelaptes”). Die gedagte is om hierdie afdeling van die webblad mettertyd uit te brei met kort beskrywings van allerlei sulke gevalle. Sien ondertussen ook “Murrealities”, elders op hierdie webtuiste.
  • Die Familie-geskiedenis, -tradisies, waardes, bydraes, rol en impak


  • Baie is alreeds en kan nog geskryf word hieroor. Voldoende om te meld dat ‘n aansienlike persentasie van die afstammelinge hulle lewens gewy het (en vandag ook nog wy) aan diens aan hul medemens, veral op die gebiede van godsdiens (kerk en sending) en die onderwys. Op baie ander terreine het die afstammelinge egter ook al deur die jare heen hulle merk gemaak, insluitend die landbou, die ekonomie, die politiek, die kunste, die tegnologie en op die sportveld - nie net in Suid-Afrika nie maar ook in talle ander Afrika-lande en ook op ander vastelande. Meer hieroor hopelik mettertyd op hierdie deel van die webblad.

    Die familie-gesang wat altyd op spesiale familie-geleenthede, insluitend huwelike en begrafnisse, gesing word is die bekende Gesang 34 (Liedboek:275): “O God van Jakob …”.

    Die spesiale teksvers van die familie, wat die baie spesiale familie-verbond omvat, is Jesaja 59:21 :
    “Wat My betref, sę die Here: dít is my verbond met die volk: myGees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond lę, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kleinkinders verdwyn nie, sę die Here, nie nou nie en nooit nie.”

    Meer hieroor hopelik mettertyd op hierdie deel van die webblad.