Saamtrekke
Verskeie van die takke en sub-takke van die familie kom van tyd tot tyd vir kleiner of groter saamtrekke bymekaar. Heelwat kan hieroor geskryf word. Op ‘n stadium was daar byvoorbeeld jaarlikse streek-saamtrekke by die Pioniers-Opelugmuseum in Pretoria gehou. Dit was gereël deur wat bekend gestaan het as die Pretoria streekkomitee.

Die grootste en bekendste saamtrekke is dié wat periodiek op Graaff-Reinet gehou word :

  • 1922: Die eerste groot Graaff-Reinet-saamtrek was dié van 1922 , met die 100-jarige herdenking van die aankoms van die stamvader Andrew Murray uit Skotland in Suid-Afrika. Die saamtrek is hoofsaaklik deur ‘n aantal kinders en kleinkinders van die oorspronklike stamouers gereël. By hierdie saamtrek is die baie bekende groepfoto van alle teenwoordiges geneem, op die voorste trappe en stoep van Reinethuis.

  • 1972: Die volgende groot saamtrek van hierdie aard was die 150-jarige herdenking in 1972 en is hoofsaaklik gereël deur Emma Horn, met die hulp van plaaslike familielede en andere. By hierdie geleentheid is op ‘n familie-vergadering besluit om ‘n famile-Sendingfonds te skep ter ondersteuning van verdienstelike sending-aksies. ‘n Spesiale familie-komitee is benoem om die fonds te administreer. Daar is ook by hierdie geleentheid besluit om soortgelyke saamtrekke op ‘n meer gereelde basis van elke tien jaar te hou en om ‘n gereelde jaarlikse nuusbrief uit te gee, om voortgesette kontak tussen die familie te bevorder.

  • 1982: Die volgende tienjaarlikse saamtrek (160-jarige herdenking) is in 1982 gehou en was hoofsaaklik gereël deur Zan Reyneke, met die waardevolle hulp, weereens, van plaaslike familielede en andere. By dié geleentheid is besluit om die bestaande twee komitees (die Pretoria strekkomitee en die Sendingfondskomitee) saam te voeg as algemene familie-komitee. Daar is ook besluit om die moontlikhede van ‘n formele familie-vereniging te oorweeg en om die volgende saamtrek in 1994 te hou ter herdenking van die 200ste geboortedag van die stamvader.

  • 1994: Die 1994 saamtrek is gesamentlik gereël deur veskeie lede van die Familiebond-komitee en familie-lede woonagtig in Graaff-Reinet, veral ds Barry Murray (uittredende voorsitter), Hester Walters (sekretaresse) en Beth Minnaar (plaaslik).

  • 2002: Hierdie fees was gehou tydens die naweek van 5-7 Julie (180-jarige herdenking). Betrokkenes by die reëlings was veral Teo Louw (sameroeper en tesourier van die Familiebond), Wendy Kroon (sameroeper van die plaaslike reëlingskomitee), sowel as beide haar suster Prue Hobson en haar skoondogter Samantha, asook Hermi Baartman (kurator van die museum) en die dames van die Publisiteitsvereniging (vir akkommodasie).

  • 2010: Die Stellenbosch-streeksaamtrek in Maart vanjaar was 'n wonderlike belewenis vir die meer as 200 familielede wat dit bygewoon het. 'n Volgende streeksaamtrek vir die Wes-Kaap word nou vir 2011 oorweeg, waarskynlik te Wellington. Navrae kan gerig word aan Laurette Murray by laurettemurray@tiscali.co.za en verdere besonderhede sal ook mettertyd op die familie-webblad geplaas word. Die volgende groot Graaff-Reinet saamtrek is tentatief geskeduleer vir 2012. Meer besonderhede hieroor sal ook mettertyd op die familie-webblad geplaas word. Ondertuswsen is dit belangrik om so veel e-pos adresse as moontlik van afstammelinge aan my te voorsien, ten einde effektiewe kontak met almal te verseker.

  • 2012: Na alle verwagting sal ‘n volgende groot familie-saamtrek te Graaff-Reinet (of elders?) vir 2012 gereël word (190-jarige herdenking) maar geen reëlings was nog teen middel-2009 mee begin nie. Veral oorsese reaksies op die 2002 fees-reëlings het verskeie versoeke ingesluit dat fees-reëlings vroegtydiger aangekondig moet word, ten einde voldoende geleentheid vir almal te bied om reëlings betyds te tref om die fees by te woon. Hou dus hierdie webblad dop vir verdere nuus, hopelik minstens ‘n jaar voor die fees.