Adreslys
‘n Adreslys van afstammelinge is vir baie jare (vermoedelik vanaf die vroeë of middel-sewentiger jare) bygehou, met die hoofsaaklike doel om die jaarlikse Nuusbrief onder alle bereikbare afstammelinge te versprei. Eers is die lys per hand bygehou. Daarna is dit vasgelê in ‘n baie basiese rekenaar-program wat destyds spesiaal ontwikkel is in die Stellenboschse kantoor van die redakteur, John Murray (b3c9d5) se seun Johan (stigter van die raadgewende ingenieursfirma Murray, Biesenbach & Badenhorst - tans net MBB). In die negentigerjare is dit oorgeplaas na ‘n ietwat meer gesofistikeerde MSAccess databasis, en tans word die moontlikhede ondersoek om dit binnekort te integreer in ‘n nuwe genealogiese databasis (Legacy 3, of soortgelyk) wat vir die toekomstige bedryf van die stamregister oorweeg word.

Deur die jare heen het die adreslys taamlik verouderd en onvolledig begin raak en tans (April 2002) word daar ‘n hernuede groot poging aangewend om die lys vollediger en beter as ooit tevore op datum te kry. ‘n Bykomende kenmerk van hierdie nuwe poging is om nou so ver as moontlik ook (en veral) die e-pos adresse van afstammelinge vas te lê en voortaan vir kommunikasies te gebruik.

‘n Duidelike verstandhouding is dat die adreslys-inligting vertroulik en slegs vir die uitsluitlike gebruik van die Andrew Murray Familiebond is, vir familie- en familiebondverwante kommunikasies en dat dit nie vir enige kommersiële of ander doeleindes beskikbaar gestel of gebruik mag word nie.